Munisipale Belasting – kan jy jou huis verloor?

OVAC Articles
Munisipale Belasting – kan jy jou huis verloor?
Holding Power to Account
  • Toegang tot behuising is ’n grondwetlike reg.
  • Hoë vaste maandelikse heffings maak dit vir baie mense onbekostigbaar om ’n huis te besit—of selfs te huur.
  • Hierdie beleid kan tot verdere dakloosheid lei.
  • Onderhandeling met plaaslike owerhede word dringend benodig om die situasie te verbeter.

As jy ’n fiets koop, is dit joune en jy kan daarmee maak wat jy wil. Jy kan geld bestee aan bykomstighede soos ligte, ’n slot en spesiale bande. Jy kan dit aanpas volgens jou eie smaak en gerief, byvoorbeeld deur dit te verf of ’n gemakliker saal op te sit. Jy kan ook kies om dit glad nie te onderhou nie en die fiets te ry tot dit uitmekaar val. Jy kan dit selfs buite laat staan om te roes of gesteel te word as dit jou sou amuseer. Die besluit wat jy daarmee maak, bly joune alleen, en jy kan maak daarmee wat jy wil sonder dat dit jou hoef geld te kos.

Aan die ander kant, as jy ’n huis — of selfs net ’n stuk grond — koop, is dit ’n heeltemal ander saak. Van die oomblik dat jy eienaarskap neem, word jy aanspreeklik vir maandelikse munisipale tariewe en belasting, ongeag of jy die eiendom of enige van die dienste wat daarvoor beskikbaar gestel word gebruik. Alhoewel ’n huis iets is wat elke individu en gesin benodig, raak dit al hoe minder bekostigbaar. In plaas daarvan om ’n belegging te wees, word

dit dikwels ’n las wat die eienaar in diep skuld kan dompel sonder dat hy ’n vinger hoef te lig.

Interessant genoeg plaas die Grondwet van Suid-Afrika ’n wetlike verpligting op die staat om toegang tot behuising te verbeter. Dit wil egter voorkom of ons plaaslike regering in die teenoorgestelde rigting beweeg. Dit maak maandelikse munisipale koste om ’n huis te behou al duurder. Dit raak nie net huiseienaars nie. Hierdie koste word ook na huurders oorgedra, wat nou hoër huurpryse moet betaal. Behuising is besig om onbekostigbaar te raak vir baie mense.

’n Beduidende deel van munisipale inkomste (die tariewe wat ek en jy betaal) word gebruik om die algemene lewenskoste van plaaslike politici en munisipale personeel te finansier. Dit is nou goed soos salarisse, oortyd, bonusse, pensioene, mediese fondse, behuisingsvoordele en vervoertoelaes. Daar is natuurlik niks verkeerd daarmee om amptenare billik te vergoed vir die werk wat hulle doen nie. Let egter op die groot kontras tussen die finansiële omstandighede van dié wat die reëls maak en administreer, en dié belastingbetalers wat effektiewelik hul salarisse betaal.

Munisipale werknemers en politici geniet oor die algemeen ’n betroubare maandelikse inkomste, ongeag ekonomiese toestande, seisoene, die weer of die sukses van ’n bepaalde bedryf. Baie Overstrand-inwoners is nie so gelukkig nie. Werklose persone, vryskutwerkers, kelners, toerismewerkers, klein sake-eienaars en entrepreneurs is afhanklik van inkomste wat onseker, seisoenaal, weersafhanklik en dikwels buite hul beheer is.

Die visbedryf, ’n bron van inkomste vir baie Overstrand-inwoners, is ’n goeie voorbeeld. Vangste — en dus inkomste — is onseker. Vissers is onderhewig aan geslote seisoene wanneer geen visvang toegelaat word nie, stormagtige wintermaande wanneer die see oor die algemeen te rof is vir visvang, en sterk winde wat vir weke in die somer kan waai. Die vis trek ook rond en dikwels is dit te ver om te gaan vang. Ons praat nie eens van al die risiko’s in die bedryf nie. Wanneer die see rof is of die vis ver is, het vissers min of geen inkomste nie. Min van hulle het die voordeel van pensioene, groot bankbalanse, mediese fondse of versekering. Tog moet hul munisipale rekeninge elke maand betaal word, ongeag of hul inkomste dit toelaat of nie.

Die vaste deel van munisipale tariewe het oor die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem en gaan verder styg met die implementering van die 2022 COS-dokument. Projeksies wys dat die vaste gedeelte van jou elektrisiteitsrekening tot heelwat meer as R1 000 per maand kan styg teen die tyd wat die COS klaar geïmplementeer is. Dit is voordat jy ’n enkele eenheid elektrisiteit gebruik het.

In die verlede kon jy jou maandelikse koste verminder deur min elektrisiteit te gebruik. Met die hoë vaste heffings gaan dit nie meer veel verskil maak nie, en jy kan gou diep in die skuld beland, selfs al gebruik jy geen elektrisiteit nie.

Dieselfde situasie bestaan ook vir water en riool, waar ’n onvermydelike “beskikbaarheidsfooi” bydra tot die groeiende skuldlading. Die fooie styg ook meedoënloos saam met munisipale eiendomsbelasting.

Ook kommerwekkend is die omstrede openbare deelnameproses wat hierdie veranderinge vergesel het. Besware en versoeke vir verduideliking is ingedien, maar baie belastingbetalers voel dit is nie na wense aangespreek nie.

In die huidige ekonomiese klimaat het die voortgesette implementering van hierdie beleid die potensiaal om baie Overstrand-belastingbetalers diep in die skuld te dompel tot op die punt waar hulle hul huise kan verloor. Dit is moeilik om hierdie beleid te versoen met die feit dat baie

staatsfondse tans bestee word aan die verskaffing van huise vir haweloses. Wat is dan die sin daarin om beleide af te dwing wat mense op die straat kan laat beland?

OVAC het herhaaldelik ’n vergadering versoek met ons plaaslike regering om hierdie kwessies aan te spreek. Ten spyte van toenemende kommer oor aanspreeklikheid en responsiwiteit van ons amptenare, is al ons versoeke geïgnoreer. Dit wil voorkom of ons administrasie slegs na die tafel toe kom oor die klas ding wanneer daar bande in die strate gebrand word.

Die huidige ekonomiese klimaat is uitdagend, en baie mense verdien heelwat minder as voorheen. Sommiges het hul bron van inkomste heeltemal verloor. Belastingbetalers het verligting en ondersteuning nodig, nie verhoogde belasting nie. Munisipale besteding moet dringend besnoei word.

Tans word munisipale tariewe skynbaar geregverdig op grond daarvan dat die huiseienaar op een of ander stadium van sy lewe die fondse gehad het om ’n huis te bekom. Dit beteken nie dat dit vandag nog die geval is nie. Vir baie was dit ’n mylpaal om te bereik, en welgedaan aan hulle. In plaas daarvan om op die staat se nek te lê, het hulle vir hulself gesorg.

Wat onaanvaarbaar is, is om hulle nou effektiewelik daarvoor te beboet vir die res van hul lewens — of totdat hulle ook dakloos is.

Anton Kruger
OVAC